Pryse Styg Sterk

– CHARL VAN ROOYEN

Die vraag na geregistreerde Brahman-aanteelvee het die afgelope ses maande ’n beduidende gunstige neiging getoon.

Sedert verlede November het die vraag na rasegte Brahmanbulle toegeneem wat toegeskryf kan word aan die droogte. Dit bevestig Brahman-kruisraskoeie het beter as ander soorte presteer. Dit het daartoe aanleiding gegee dat kommersiële beesboere weer na rasegte, geregistreerde Brahmanbulle as teelbulle kyk.

Die gemiddelde prys vir Brahmanbulle op nege produksieveilings was R55 368. Kroonvee van Vryburg het verlede November ’n besonder hoë gemiddelde prys van R64 600 vir rooi bulle en R52 500 vir wit bulle behaal.

Op dié nege veilings is rasegte, geregistreerde koeie met kalwers teen gemiddeld R37 850 verkoop. Dragtige en nie-dragtige verse het die afgelope ses maande gemiddeld R26 915 behaal. Op die Richugo-veiling by Piet Retief is koeie met kalwers teen gemiddeld R51 909 en dragtige verse teen gemiddeld R30 818 verkoop.

Op Wayside Brahmane se veiling in Botswana het bulle teen gemiddeld R64 650 en koeie en verse teen ongeveer R33 000 verhandel.

Die algehele uitverkoping van die Nedibest-stoetery van mnr. Willie Becker wat 39 jaar lank ’n Brahman-stoetteler was, het die rekords laat spat. Bykans vierhonderd boere het dit bygewoon. Bulle is teen gemiddeld R125 000 verkoop, koeie met kalwers teen R60 290 en verse teen R48 000.

Bron: Landbouweekblad 24 May 2019

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *